Steampunk (afgelei van die Engelse steam "stoom" en die Amerikaanse term punk "sleg", "waardeloos", met 'n nuwe betekenis wat na 'n alternatiewe leefstyl en estetiek verwys) is 'n literêre stroming wat in die 1980's as 'n subgenre van wetenskapsfiksie en wetenskapsfantasie na vore gekom en intussen tot 'n selfstandige kunsgenre, 'n kulturele beweging met sy eie styl, estetiek en subkultuur ontwikkel het.
Kenmerkend vir steampunk is die kombinasie van moderne, teenwoordige en futuristiese tegnologie met tegniese middele, materiale, kultuur, mode en estetiek wat aan die Victoriaanse tydperk ontleen is, maar op 'n geïdealiseerde manier vervreem word om 'n unieke tegnologiese retrostyl te skep. So word na steampunk dikwels ook verwys as retro-futurisme. Steampunk berus dus op 'n toekomsvisie soos dit moontlik in die Victoriaanse tydperk gestel sou word het. Dit is ook verwant aan die Neo-Victoriaanse beweging wat fokus op die estetika wat dié van die Victoriaanse en Edwardse skoonheid met moderne beginsels en tegnologie saamsmelt.
As 'n letterkundige genre het Steampunk sy oorsprong in die romans van vroeë wetenskapsfiksieskrywers soos Jules Verne (20 000 myl onder die see, oorspronklike Franse uitgawe in 1869-70 gepubliseer) en H.G. Wells (Tydmasjien; in Engels in 1904 gepubliseer). Moderne Steampunk-romans, wat in die Victoriaanse tydperk afspeel, beskryf 'n distopiese, kontrafaktiese (alternatiewe) of virtuele geskiedenis. Steampunk word dikwels as 'n variant van wetenskapsfiksie beskou en val dus in die kategorie van alternatiewe wêreldgeskiedenisse.
In die Afrikaanse wetenskapsfiksie bestaan steampunk glad nie. Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok (2015) deur Pieter Verwey is wel 'n Afrikaanse fantasieboek wat sterk steun op steampunkelemente.[2]